Recensie 13-10-2013 - Odeion (Bloemfontein) - Elretha Britz
Duo se akkordeonspel betowerend. Suksesvol boodskap
LOFLIEDERE oor dié twee Nederlandse musici met die verwarrende vanne het hulle vooruit geloop lank voordat hulle in Bloemfontein aangekom het, maar niks, nie eens die luister na hul twee CD’s, kon ’n mens voorberei op ’n lewende uitvoering nie.
Die akkordeon is ’n moeilike instrument, maar skynbaar nie vir Berkers en Bekkers nie.
Hul vingers beweeg blitsig en akkuraat oor die menigte knoppies terwyl hulle verskeie tegnieke inspan vir ’n variasie van klankkleure en emosie wat jy nie van ’n akkordeon verwag nie.
Die vroue se verbeeldingryke verwerkings het in Moessorgski se Prente op ’n uitstalling gekulmineer en dit is veral in die dramatiese dele dat die akkordeon se eiesoortige timbre ten beste ontgin is.
Juis vanweë dié timbre het Grieg se Holberg-suite ’n gewigtiger atmosfeer verkry, maar die vertolking het danksy die musici se musikaliteit steeds oortuig.
Werke wat spesiaal vir twee akkordeons geskryf is, soos Uitsig van ’n trein deur Ter Veldhuis, is ’n toonvenster vir die instrument se spektrum van moontlikhede, wat weer ’n platform bied vir die musici se byna grenslose vernuf. Daar is oënskynlik niks wat hulle nie uit ’n akkordeon kan optower nie.
’n Hoogtepunt in die eerste helfte was Strawinski se Petroesjka met sy markpleintonele wat in klankbeelde voor jou afspeel.
Berkers en Bekkers sê hulle tree soms as soliste op maar meestal as duo en net as jy so gereeld saam speel, kan ’n rapport ontwikkel wat tot so ’n hegte eenheid lei. Hul samespel is onverbeterlik.
Voeg hierby hul intense meelewing en buitengewone begaafdheid en jy kry ’n wêreldklas-uitvoering.
Wat ’n onvergeetlike belewenis.
Recensie 18-10-2013 - UNISA (Pretoria) - Paul Boekkooi
Daar was ’n tyd toe fotografie nie as ’n legitieme kunsvorm beskou is nie, ’n saxofoon slegs bedoel is om in rokerige jazzklubs gehoor te word, marimbas beperk is tot etniese saamtrekke en die akkordeon (trekklavier) liefs nie wyer ervaar moes word as op bierfeeste, by volkspele en in dekadente kabarethole nie.
Gelukkig verander persepsies geleidelik. Vir die Nederlandse akkordeonduo TOEAC, bestaande uit Pieternel Berkers en Renée Bekkers, word dié verandering op drieërlei wyses strategies “gestuur”: Hulle ontgin die bestaande repertorium vir hul instrument, verwerk beroemde bestaande komposisies vir eie gebruik en inspireer of gee opdragte aan lewende komponiste om nuwe werke vir hulle te skryf. Albei bespeel nou die sogenaamde knopies-akkordeon pleks van die konvensionele en minder uitdagende klawerbord-variant.
’n Opvallende verskil van hul vorige besoek in die lente van 2010 is die artistieke wasdom wat sedertdien ingetree het.Dit sluit veral ’n wyer omvang van musikale verfyning in. Dit kom veral na vore in die voltooiing van die volledige verwerking van Moessorgski se Prente op ’n uitstalling, asook die eerste toneel uit Strawinski se Petroesjka.
Om by die Moessorgski te begin: Om moeilik verklaarbare redes slaag TOEAC se verwerkte weergawe daarvan om die wêrelde van Victor Hartmann (skilder en argitek) en die komponis binne ’n meer outentiek Russiese ambiance te vestig.
Die oorspronklike klavierweergawe bly die moeder van alle uitdagings, maar in Ravel se orkestrasie daarvan is die oer-Russiese versag deur die voorbeeld wat Rimski-Korsakof in ander Moessorgski-orkestrasies gestel het.Die duisterheid, dreiging, desperaatheid, of elke ander aspek wat ’n mens in die werk se subteks sou kon ontdek – forsheid, vermetelheid, wildheid, intensiteit, maar ook plek-plek ’n ligte spel met kleure – het in Berkers en Bekkers se interpretasie getref.
In Strawinski het dié duo veral die balletmatigheid met hul ragfyne maar soms ook gepaste klankoormoedige spel geïllustreer. Die ensemblekoördinasie, die klankdinamiek en selfs die oomblikke van tipiese Strawinski-humor het ’n eie karakter daaraan verleen.
Vanselfsprekend klink Piazzolla se werk op geen instrument meer idiomaties as op die akkordeon of bandoneon nie. Die sterk kontraste in karakter tussen sy “SVP” en “Ave Maria” is manjifiek oorgedra, met respektiewelik die drif en siel van die akkordeon wat elk binnedring.
In Sebastiaan Klein se “Caricias” is daar ’n aandoenlike weemoedigheid wat nooit clichéagtig raak nie, terwyl hy duidelik weet hoe om die ongelooflik subtiele timbremoontlikhede van die instrument op ’n uitdagende manier te manifesteer, soos byvoorbeeld in die chromatiese neerdalende frase waarmee die werk afsluit.
Ewe fassinerend, maar ook heel anders betreffende stemming en ritmiese impulse, was Gerard Beljon se “(It takes 2) 2 tango”. Die sinryke atonale aspekte was eerder effektief as misleidend. Met die sensualiteit van dié instrument(e) het hy tussen impressionistiese en ekspressionistiese pole bly toor.